Wednesday 29 October 2008

Oupa en Ouma se brille

Saterdag het Yolandi by die playcentre se stalletjie gewerk. Die drie meisiekinders het by my gebly. 'n Lekker speel oggend gewees.
Om die storie te begin moet ek by die begin begin.
Japie het in Suid Afrika 'n porselein Oupa en Ouma gekoop. Hulle het altyd op 'n antieke tafeltjie gestaan. Nadat hy van sy Oupa en Ouma stoel ontslae geraak het voordat hulle New Zealand toe gekom het, het die twee poppe agtergebly. Hulle is weg New Zealand toe en die twee poppe was nogsteeds daar. Ek het toe gedink, ek gaan hulle inpak en saambring. Nou staan hulle op my kiaattafeltjie in my sitkamer. In die begin was dit vir Odélia nie reg nie, want net Oupa het 'n bril opgehad. Die bril is dan van Oupa na Ouma verskuif vir 'n tydperk en as sy weer kom kuier, kon Oupa weer sy bril terug kry. Ek het toe ek in Suid Afrika gekuier het, vir Ouma ook 'n bril gekoop. Hiermee was almal tevrede en is daar nooit met die brilletjies gespeel nie.



Nou ja, die eintlike storie van Saterdag.


Nadat hulle 'n rukkie hier is, kom ek agter dat Oupa en Ouma nou sonder hulle brille is. Omdat ek nie gesien het wat gebeur het nie, was ek dadelik onseker en het gevra : Nou waar is Oupa en Ouma se brille nou? Wie het hulle gevat? Die stem was seker baie kwaai, want eers het niemand geantwoord nie. Die volgende oomblik kom Annika met 'n brilboks nader. Gewoonlik is my bril daarin, maar ek het hom gebruik en nie weer terug gesit nie, met ander woorde hy het nog op die tafel langs Oupa en Ouma gelê.
Ek het hulle net daarin gebêre, Ouma.
Pragtig langs mekaar in die brilboks lê die twee brilletjies.



Ek het haar verseker dit is reg en die boksie toegemaak en op die kas gebêre. Intussen het Pieter by die huis gekom, sy bril afgehaal en op die kombuiskas neergesit. 'n Rukkie later sien ek sy het weer die brilboks en vra wat sy nou wil doen. Ek moet nou eers die brilletjies skoonmaak sê sy. Maak toe ook eerste Oupa se bril skoon.
Odélia het die gedoente die hele tyd aanvaar, maar dit het seker vir haar net teveel geword dat Annika nou met die brilletjies 'speel' en sy nie. Sy het nader gekom en terwyl Annika Ouma se brilletjie skoongemaak het, Oupa s'n gevat en hom mooi langs Oupa Pieter se bril op die kombuiskas gaan neersit. Sy sê toe ook vir Annika : Hy moenie in die boksie wees nie, kyk hy moet hier langs Oupa Pieter se bril kom. Dan pas hulle bymekaar.



Dit is darem net te dierbaar waarmee die kleingoed alles vorendag kom. Hulle kan mens laat lag dat die trane wil loop.

Al julle Oupas en Oumas geniet julle kleinkinders, hulle is so kosbaar.

No comments: