Friday 31 October 2008

Dit is Eugene se verjaarsdag



Nog 'n jaar, en nog 'n gryshaar. Darem het jy nou aanvaar krieket is vir die jong outjies, moenie worry nie, vir ons sal jy altyd die jonk van gees pa van 4 wees wat altyd reg is om te party. Ek dink dit som jou mooi op.
Baie geluk met jou birthday "Gegene", wens ons was daar om dit saam met jou te geniet. Dink aan jou en mag jy vir nog baie jare vir jou lieflike gesin gespaar bly.
Ons drink 'n glasie op jou!!! (of dalk 'n bottel soos in die ou dae)

Thursday 30 October 2008

Hasies

Elke nou en dan sien ek hasies rondom die huis speel. Ons het 'n container waarin van ons meubels en ander goed gestoor is, wat langs die huis in een van die weikampe staan. Dit wil voorkom of die hasies onder die container bly.
Sondag, 25ste, het ek en Pieter in die sitkamer gesit toe ek sien hoe lekker die hasies buite speel. Ek het die kamera gaan haal en hulle afgeneem.
Ek het altyd gedink dat daar net twee hasies was, soos julle op die foto kan sien.
*So tussen hakkies, kan julle sien hoe mooi groei die gras?*


Later het ek agtergekom, dat daar drie hasies is.


Groot was my verbasing om te sien dat daar eintlik vier hasies is en nie net drie nie.


Ek het vir Pieter gesê dat ek vir hulle gaan brood uitsit daar naby die heining om te sien of hulle dit gaan optel. Sal weer oor hulle berig.

Wednesday 29 October 2008

Wilna 20 Jaar!!!

Sjoe, jy is ook nou nie meer 'n dogtertjie nie. Onthou nog toe ek julle onmoet het was jy in Std 5. En nou is dit 'n jaar voor jou groot 21st. Baie geluk met jou verjaardag, Girla. Hoop jy het 'n lekker dag en dat al jou drome sal waar word.


Scrapbook

Dié van julle wat gaan kyk na die ander blogs wat ons aan die linkerkant van ons blog het, het seker al na Uit en tuis gaan kyk. Wel, Sandra het nou 'n Scrapbook bybelstudie vir Vroue begin. Dit is nou in die tweede week. Vicky het gevra of ek dit saam wil doen en vir my die nodige besonderhede gestuur. As daar enigiemand van julle is wat dit ook wil doen, tree asseblief in verbinding met Sandra by : uitentuis2001@yahoo.com . Dit is eintlik baie interessant.

Nou ja, nodeloos om te sê op hierdie stadium scrap ek weer 'n bietjie.

Ouma Issie se tafel het nog altyd handig te pas gekom. Lekker deurmekaar. Net ek weet wat daar aangaan.



Die eerste week se oefening het gegaan oor : Myself.



Dit gaan ook hoe jy omtrent jouself voel - na aanleiding van die Bybel. Laat 'n ou nogal diep dink.


Ek het natuurlik nie eintlik fotos nie, so dit het maar sukkel sukkel gegaan. Die baba fotos wat ek het, is iewers in die container weggebêre. Die volgende was skoolfotos : Hier het ek my weereens vasgeloop. Die fotos het ek al maats bymekaar gesit. Dit is nou van my en Pieter. Laerskool, Hoërskool, Sport, Jonkwees, ens. Ek beplan nou al lankal 'n boek van ons twee, maar het nog nie daarby uitgekom nie.
Nou ja, ek het gesoek en gesoek en uiteindelik op die fotos afgekom wat ek op my twee bladsye gebruik het.
Die tweede bladsy gaan oor die kerk. Ek sal wanneer die bladsye gedoen is, dit ook plaas.
Onthou : Gaan loer gerus op Sandra se blog.

Oupa en Ouma se brille

Saterdag het Yolandi by die playcentre se stalletjie gewerk. Die drie meisiekinders het by my gebly. 'n Lekker speel oggend gewees.
Om die storie te begin moet ek by die begin begin.
Japie het in Suid Afrika 'n porselein Oupa en Ouma gekoop. Hulle het altyd op 'n antieke tafeltjie gestaan. Nadat hy van sy Oupa en Ouma stoel ontslae geraak het voordat hulle New Zealand toe gekom het, het die twee poppe agtergebly. Hulle is weg New Zealand toe en die twee poppe was nogsteeds daar. Ek het toe gedink, ek gaan hulle inpak en saambring. Nou staan hulle op my kiaattafeltjie in my sitkamer. In die begin was dit vir Odélia nie reg nie, want net Oupa het 'n bril opgehad. Die bril is dan van Oupa na Ouma verskuif vir 'n tydperk en as sy weer kom kuier, kon Oupa weer sy bril terug kry. Ek het toe ek in Suid Afrika gekuier het, vir Ouma ook 'n bril gekoop. Hiermee was almal tevrede en is daar nooit met die brilletjies gespeel nie.



Nou ja, die eintlike storie van Saterdag.


Nadat hulle 'n rukkie hier is, kom ek agter dat Oupa en Ouma nou sonder hulle brille is. Omdat ek nie gesien het wat gebeur het nie, was ek dadelik onseker en het gevra : Nou waar is Oupa en Ouma se brille nou? Wie het hulle gevat? Die stem was seker baie kwaai, want eers het niemand geantwoord nie. Die volgende oomblik kom Annika met 'n brilboks nader. Gewoonlik is my bril daarin, maar ek het hom gebruik en nie weer terug gesit nie, met ander woorde hy het nog op die tafel langs Oupa en Ouma gelê.
Ek het hulle net daarin gebêre, Ouma.
Pragtig langs mekaar in die brilboks lê die twee brilletjies.



Ek het haar verseker dit is reg en die boksie toegemaak en op die kas gebêre. Intussen het Pieter by die huis gekom, sy bril afgehaal en op die kombuiskas neergesit. 'n Rukkie later sien ek sy het weer die brilboks en vra wat sy nou wil doen. Ek moet nou eers die brilletjies skoonmaak sê sy. Maak toe ook eerste Oupa se bril skoon.
Odélia het die gedoente die hele tyd aanvaar, maar dit het seker vir haar net teveel geword dat Annika nou met die brilletjies 'speel' en sy nie. Sy het nader gekom en terwyl Annika Ouma se brilletjie skoongemaak het, Oupa s'n gevat en hom mooi langs Oupa Pieter se bril op die kombuiskas gaan neersit. Sy sê toe ook vir Annika : Hy moenie in die boksie wees nie, kyk hy moet hier langs Oupa Pieter se bril kom. Dan pas hulle bymekaar.



Dit is darem net te dierbaar waarmee die kleingoed alles vorendag kom. Hulle kan mens laat lag dat die trane wil loop.

Al julle Oupas en Oumas geniet julle kleinkinders, hulle is so kosbaar.

Tuesday 28 October 2008

Ruben

Maandag, 27 Oktober was ons eerste beauty dag by Sebil na haar operasie. Ek, Daleen en Ruben het met ons kar daarheen gegaan. Met die uitstap by Daleen se huis, vra Ruben hoed? Bril? Ja, sê Daleen ek het jou hoed en jou bril. Ek sit hom in sy stoeltjie en sy ma moet sy hoed opsit en sy donkerbril. Dit is elke oggend se ritueel wanneer hulle Taupo toe gaan - Daleen werk toe en Ruben dagsorg toe.




Hy is ook nie altyd tevrede met hoe die hoed en die bril sit nie. Dan moet die bril op die oë en dan weer op die hoed.










Hy het uiteindelik oppad terug so met sy bril op sy oë en sy hoed op sy kop aan die slaap geraak.

Baie erg nou weer vir sy hoed (kêpsie) en begin nou vergeet van die beanie waarvoor hy so erg was in die winter.

By dagsorg moet hy eintlik 'n breërand hoed op sy kop hê. Gelukkig hou hy nou al die kêpsie op en sal hy binnekort 'n breërand hoed op sy kop aanvaar. Hulle is hier baie gesteld daarop dat die kinders hoede moet dra omdat die son so skerp en warm is. Hier is ook baie velkanker in New Zealand.

Ons het nie vergeet nie ....

Ons wil net baie graag geluk se aan Andries en Maureen met hulle 10de huweliksherdinking. Ek is nie seker of dit die 24ste Okt was nie, maar die datum bly in my kop. Baie geluk julle twee, ons glo en vertrou daar gaan somer nog baie gelukkige jare vir julle twee saam wees.





Dan ook aan Picker en Leoni. Hulle het hul huweliksherdenking die 25ste Okt gevier. Baie geluk met julle 11de huweliksherdenking. Mag die volgende 11 jaar net so baie voorspoed en geluk vir julle bring.



Lehandri is 9!!!!!

Veels geluk, Lehandri, omdat jy verjaar. Mag die Here jou seën en nog baie jare spaar. Geniet 'n wonderlike dag saam met Pappa, Mamma, Boeties en Sussie. Ons hoop hulle bederf jou baie.




Monday 27 October 2008

Te Puia #1

Die Te Puia Pohuto Geyser is 'n ander besienswaardigheid in Rotorua wat die moeite werd is om te besoek.


Die foto's is ook baie oud, maar ons het dit net nog nie op die blog gesit nie.

Die ingang na Te Puia.




'n Besoek aan Te Puia sluit in om na al die fermels in daardie afgebakende gebied te kyk. Jy sien ook baie van die modder wat kook. 'n Besoek hiér sluit ook weereens baie van die Maori kultuur in.

Die stoom wat so staan noem ons fermels. Dit is stoom wat uit die grond uitkom.



Die water is ook warm en op plekke lyk dit of dit kook.





Al die fermels veroorsaak 'n snaakse reuk, wat heeltyd oor Rotorua hang. Hierdie reuk is erger wanneer dit onweer is en partydae kan jy dit weer gladnie ruik nie.




Orals in Rotorua sien jy sulke stoom trek. Op die hoeke van strate, in parke, ensovoorts. Hierdie plekke word dan toegekamp en jy mag dan ook nie nader gaan nie.


Eienaardige plekkie, hierdie New Zealand. Met sy fermels hier en vuurspuwende berge daar. En ja, op die vuurspuwende berge is daar sneeu. Wat 'n rare kombinasie.

Vertel volgende keer weer verder.

Sunday 26 October 2008

Marijon se Matriekafskeid

Vir Marijon was Vrydagaand die grootste aand van 'n meisie se hoërskooldae. Dit was uiteindelik tyd vir Matriekafskeid.
Hiedie fotos het my ma sommer by die huis geneem. Ons wag nog vir dié van die fotograaf.


Marijon saam met ouboet Dylan.

Marijon en Armand het met Dylan se vriendin se BMW gegaan en omdat Arrie darem al sy liksens het, het hy sommer die eer gekry om te bestuur.

Jy was stunning, sus. Arrie barrie is 'n gelukkige mannetjie!

Baie geluk Petro

Webfetti.com








Vandag verjaar Petro van Nieuwenhuizen. Baie geluk met jou verjaarsdag. Mag die jaar ryklik geseën wees vir jou. Mag jou nog baie jare van lekker "scrap" geniet. Hoop jy gaan die dag baie geniet.

Saturday 25 October 2008

Japie Lappies verjaar.

Webfetti.com





Baie geluk met jou 34ste verjaarsdag vandag. Mag die jaar wat voorlê vol seëninge en goeie gesondheid wees. Geniet 'n wonderlike dag.

Friday 24 October 2008

Sommer net 'n foto

Die afgelope tyd was daar soveel verjaarsdae gewees, dat ek net so 'n berig of twee moes inkry. Terwyl ek al die foto's van die Tamaki Maori Village bymekaar gekry het, het ek ook nog op hierdie foto's afgekom.


Hierdie foto is van ver afgeneem. Hier lyk dit nie regtig so nie, maar die boom groei regtig bo-op die trok.

Die tweede foto wys darem baie duideliker dat die boom wel op die trok groei.

Met die kwaai droogte wat ons verlede somer gehad het, het ons gedink dat die boom nie meer verder sou groei nie. Ek sal tog weer 'n foto neem om te wys dat hy wel nog groei.

Thursday 23 October 2008

Uitstappie in Rotorua #2

Sondag het ons ook die Paradise Valley Springs Wildlife Park besoek. Dit was weer lekker om Leeus te sien. 'n Leeu is darem 'n amazing dier.


Hier lê en slaap Max, koning leeu, soos Ruben hom genoem het.




Hier is Daleen, Ruben en Johan besig om te kyk of hulle 'n vis of twee in die rivier sien.




Die plekkie is amper soos 'n diere tuin. Daar was nou nie Olifante gewees nie, maar daar was baie bekende diere.


Die Vark



Die Eend


Hier is Johan en ek by die watervalletjie

Die Kangaroes


Die skapies




Ruben het vir hulle 'n bietjie kossies gegee





Daleen en Ruben, terwyl ons gewag het dat hulle die leeus moes kom kos gee


Die leeus was baie honger


Andries en Conrad verjaar.

Webfetti.com






Baie geluk met jou verjaarsdag, Andries. Mag jy nog baie jare vir jou gesin en almal wat vir jou lief is gespaar bly. Gods rykste seën word jou toegebid.




Baie geluk met jou verjaarsdag, Conrad. Mag die jaar wat voorlê vol vreugde, voorspoed, geluk en liefde wees. Geniet die dag.