Monday 31 March 2008

Verjaarsdag wense

Theresia Olivier verjaar vandag. Baie geluk. Mag die jaar vorentoe vol vreugde, vrede en geluk wees.

Nuus oor Odélia en Annika

Dit gaan elke dag beter. Odélia het 'n lekker nag gehad. Net wakker geword van 'n droom, maar verder het sy nie gekla oor pyn nie. Annika se handjie lyk ook goed.

Sunday 30 March 2008

Nuus oor ons almal

Dit gaan goed met die kleinkinders. Ons het by Japie en Yolandi geslaap laasnag. Dit gaan elke dag beter met Odélia. Sy kry nog blaasspasma, maar dit is ook al baie minder. Sy is so springlewendig, dat 'n mens nie kan glo sy het sò 'n groot operasie gehad nie. Wil al rondhardloop, vir Joanné optel en spring en rond klouter. Dit is 'n baie goeie teken dat sy besig is om gesond te word. Sy moet haar egter nog stil gedra om honderd persent oor die operasie te kom. Annika se verband is af en die snyplek het vanoggend baie goed gelyk. Joanné is baie bly om by die huis te wees. Loop die hele wêreld vol en speel te lekker. Yolandi sien Vrydag die dokters in Rotorua Hospitaal en sal dan seker ook die datum kry wanneer sy moet ingaan vir haar operasie. Ons hoop dat hulle haar ook nou gou kan help sodat sy ook sekerheid kan kry.
Ruben raak nou regtig bekkig. Sê omtrent elke woord agter jou aan. Ons het vanoggend by hom ook gekuier oppad terug Taupo toe. Hekkie en Daleen is ook gelukkig en gesond.
By Johan en Sebil gaan dit ook goed. Hulle is baie opgewonde oor hoe dinge op die plaas vorder en dat die huis se buitelyne nou op is en hulle nou kan sien hoe die huis vorder waarin hulle Juniemaand gaan intrek. Tinky is ook springlewendig en gesond.
Met my en Pieter gaan dit ook goed. Hy doen werk op die plaas by Japie, so hy is nie meer heeltyd indiens hier by die huis nie. Nou moet ek maar weer self inspring en doen wat hy my mee gehelp het ook.

Verjaarsdae vandag

3 Verjaarsdae vandag. Baie geluk aan die volgende persone wat vandag verjaar. Gods rykste seën word julle toegewens op hierdie dag en vir die jare wat voorlê. Hoop julle geniet die dag.

GIDEON ERASMUS van Hartebeespoortdam
LEANNE DU PLESSIS van Auckland, New Zealand
en PETRO AGENBACH.

Friday 28 March 2008

Die kleinkinders

Annika het gister by Johan en Sebil gekuier. Vanoggend is sy saam na Hekkie en Daleen toe en het vir Ruben gekuier. Daleen het Annika en Ruben playcentre toe gevat. Hulle het 'n baie lekker kuier gehad. Vanaand slaap Annika by Johan en Sebil. Yolandi en Odélia het ongeveer 4 - 5 uur vanmiddag uit Auckland uit huistoe gery. Hulle het veilig by die huis aangekom. Die dokters meen dat die huislike omgewing sal help om haar gouer oor die spasma te kry. Ons hou styf duimvas daarvoor. Joanné slaap nog vanaand by ons en dan sal sy môre huistoe gaan. Sy moes iets aangevoel het, want sy wou vanaand gladnie slaap nie. Sy het eers 15 oor nege gaan slaap waar sy altyd tussen 7 en half agt gaan slaap. Sal weer môre berig hoe dit gaan, wanneer ek vir Diela gesien het.

Thursday 27 March 2008

Odélia

Yolandi het vanoggend vroeg gebel. Diela het 'n goeie nag gehad. Die dokter wil haar nie graag huistoe stuur met morfien as 'n pynstiller nie. Hulle sal heelmoontlik vanaand in die Ronald McDonald huis slaap en as alles goed gaan en sy nie meer so baie pyn het nie, kan hulle dalk môre huistoe kom. Ons is gladnie haastig nie, al wil ons hoe graag hê sy moet huistoe kom. Ons wil nie hê hulle moet weer teruggaan nie. Eerder bly so lank as wat nodig is en dan huistoe kom om te bly. Ons glo en vertrou dat die medikasie nou beter gaan werk en sy spoedig weer by die huis gaan wees.

Jan verjaar

Jan Bredenhann verjaar vandag. Word ook nou mooi groot, 'n volle 49 jaar oud. Baie geluk, Jan. Mag die jaar wat voorlê vol vreugde, geluk en voorspoed wees. Gods rykste seën word jou toegebid.
Jan is op die foto saam met sy vrou, Amanda.

Wednesday 26 March 2008

Salomi verjaar vandag

Salomi Boshoff (Dreyer) verjaar vandag. Baie geluk met jou verjaarsdag. Hoop dat jy 'n wonderlike jaar sal hê. Geniet jou dag.

Odélia en Annika se vordering

Japie en Annika het vanmiddag teruggekom van Auckland af. Haar handjie is nogsteeds in 'n verband. Die verband kan hulle self op die 10de dag verwyder.

Yolandi en Odélia het in Auckland agter gebly. Odélia kry nog redelik gereeld blaasspasma. Die scan het gewys dat daar 'n redelike hoeveelheid skrapnel (stukkies bloed, ens.) in die blaas is. Hierdie stukkies moet nou saam net die uriene uitkom. Dit wil voorkom asof hierdie skrapnel dan die oorsaak is van al die pyn. Hulle het ook gesê dat haar medikasie aangepas word. Meer van alles en meer keer per dag (3 keer i.p.v. 2 keer). Sy is ook terug gesit op morfien, wat die pyn beter beheer. Daar is dus nie sprake dat sy môre al kan huistoe kom nie, maar ons hoop en vertrou dat sy gou sal kan huistoe kom.

Japie het vir my my kamera saamgebring. Sò, hier is die foto's wat geneem is.

Die paashaas het vir hulle paaseiers by Ouma se huis afgelewer en ons het dit saamgevat.








Joanné het ook 'n paaseier gekry, maar het meer belang gestel in 'n soutkoekie.



Die speelpark by Ronald McDonald huis het toe aan die beurt gekom.
Annika op die glyplank. Sy was natuurlik nie tevrede dat ons ander nie saamgespeel het nie.

Joanné het besluit sy sal gou bietjie saam met Annika speel. Dit was ook nie genoeg nie.


Julle weet, die kinders kan 'n mens mos altyd in 'n blik druk.




Sy het my ook met die langste moontlike pad gevat om by die glyplank uit te kom. En ek moes bly ook.

Tuesday 25 March 2008

Nuus uit Auckland

Odélia het netnou gebel. "Ouma, ek het nie meer pypies wat uit my maag kom nie." Dit was baie goeie nuus. Die kateter is vanoggend afgebind en sy moes vir die hele dag op haar eie piepie. Dit het baie goed gegaan, alhoewel sy sê dat dit nog baie seer is om te piepie. Die dokter wil môre 'n scan doen om te kyk of alles reg is en dan sal hy besluit wanneer hulle kan huistoe kom. Hulle sal ook môre dan verder met Annika se hand werk, sodat hulle dalk die verbande kan verwyder voordat hulle huistoe kom. Sal weer môre berig hoe dit daar gaan en of hulle by die huis is. Dankie vir al die gebede wat vir hulle opgegaan het.

Monday 24 March 2008

Nuus uit Auckland

Pieter, ek en Joanné het Sondagoggend in die pad geval Auckland toe. Ons was vandag om en by half vier weer by die huis.
Dit is met groot dankbaarheid dat ons kan berig dat alles in Auckland goed afgeloop het en dat dit goed gaan met albei die meisiekinders.
Annika klim en klouter al met groot gemak weer op al die speelgoed rond. Die linker handjie is in verband toegemaak en die duimpie is reguit vasgebind. Hulle hoop dat die dokter die verband sal kan verwyder voordat hulle huistoe kom.
Odélia vorder pragtig. Sy kry nog so af en toe blaasspasma, wat baie pynlik is. Die twee pypies wat in die nierpypies was, is vandag verwyder en slegs die kateter is nog in plek. Dit sal nou vir 'n dag of wat so bly. Die vog wat uit die blaas gedreineer het, was baie bloed, maar sedert die pypies verwyder is en al die water nou deur die blaas gaan, verander die bloed en word dit nou 'n ligter vloeistof. Sy moet baie water drink om die vloeistof helder te kry. Gelukkig is sy baie lief vir water en drink ongeveer twee liter per dag. Ons sal môre oggend weer hoor hoe dit gaan en sal julle op hoogte hou.
Jammer dat daar nie foto's is nie, maar die kamera het in Auckland agter gebly.

Gelukwensings vir die dag

Ilandré Labuschagne baie geluk met jou verjaarsdag vandag. Ons hoop jy gaan jou daggie geniet en dat almal jou lekker gaan bederf.

Paradise Valley Springs Lion Park

Ons was verlede Woensdag by die leeu park met Ruben. Die leeu park is 'n paar minute se ry uit Rotorua uit.

Hulle het vir ons gese hulle het welpies, hier is hulle 12 maande oue welpies.

Ruben moes maar tevrede wees om net aan 'n poot te vat.

Ons het ook gesien hoe hulle die groot leeus kos gee.





Sunday 23 March 2008

Vordering van die Kombers

Kyk net hoe besig is Ouma. Sy werk baie hard om ons kombers klaar te maak.



In so 8 dae se tyd het Ouma heelwat gedoen gekry. Gaan kyk gerus by die 15de Maart, dan sal julle sien hoe groot verskil daar is.


Saturday 22 March 2008

Gelukwensings vir die dag

Ankia van der Merwe verjaar vandag. Baie geluk met jou verjaarsdag. Ons hoop die jare is vol vreugde en voorspoed vir jou.

Friday 21 March 2008

Jag in New Zealand

Donderdag - oggend so 7 uur se kant het oupa Pieter, Hekkie en Johan gaan kyk of hulle iets kan kry om te jag. Aangesien hier nie vreeslik wild is nie, moes daar jaggemaak word op die wilde boerbokke wat besig is om die boere se gras op te vreet. Gras, wat op hierdie stadium baie skaars is. Ons het die trop in een van die paddocks gekry op Johan se plaas. Daar was so min of meer 30 bokke gewees. Die grootste een is uitgesoek en daar gaan 'n trofee van hom gemaak word. Hierdie is spesiaal vir Francois Strydom en Piet Botha van Gochas, Namibië, waar ons so lekker Spingbokke en Gemsbokke gejag het.



Hier staan Hekkie en Johan en lag vir die wat Oupa geskiet het.





Ruben kyk net of die bok 'n trofee werd is.

Nuus van die kleingoed

Dit gaan goed in Auckland. Annika het aanvaar die hand moet toe wees en Japie sê sy is alweer vol van haar ou trieks. Sy kla nie dat die duimpie seer is nie.
Odélia het ook 'n goeie nagrus gehad en nie weer probleme nie. Sy kla af en toe van pyn. Hiervoor kry sy morfien en kan ook brufen daarvoor gegee word. Op die foto kan julle sien sy het alweer 'n glimlag en julle kan sien Bella, heel regs op die foto, is daar om haar geselskap te hou. Weet nie of julle vir Bella onthou nie. Dit is die skapie wat altyd saam met haar slaap. Sy het met ons oor die telefoon gepraat en klink ook baie goed. Baie dankie vir al jul gebede.




Thursday 20 March 2008

Nuus oor Odélia en Annika






Nuus uit Auckland oor Odélia en Annika is goed. Annika is vroeg vanoggend geopereer. Al die foto's wat ek ontvang het is van Annika voor en na die operasie en volg hierna. Albei arms was aanvanklik toegedraai, aangesien daar aarvoeding in die regterarm was. Dit is na die tyd verwyder. Annika is op en wakker en wil net graag haar linkerhand ook uit die verband hê. Dit moet ongelukkig nog 10 dae so in die verband bly en dan sal die verband verwyder word en die dokter na haar hand kyk. Dit gaan goed met haar. Ons het met haar oor die telefoon gesels en sy klink baie goed.

Odélia is later vanmiddag geopereer. Dit is soos ons almal kan dink 'n baie delikate operasie. Aangesien sy soveel infeksie in die urienweg gehad het, het die blaas tydens operasie begin swel. Dit het veroorsaak dat sy langer in die operasiesaal was, aangesien hulle toe stadiger moes werk. Die dokter was ook nie tevrede met die insetsel wat hy op die eerste nier gedoen het nie, en het dit weer oor gedoen, wat natuurlik toe ook veroorsaak het dat die operasie nog langer geneem het om te voltooi.

Die terugvoering wat na die operasie deur Japie gegee is, is dat dit goed gaan en die dokter tevrede is met die operasie. Sy het in beide pypies wat geskuif is in die nier 'n pypie vir drynering. Hierdie pypies kom uit in die maag - met 'n snytjie (weet nie presies waar op die magie nie). Deur hierdie snytjie kom die kateterpypie ook uit. Afhangende van hoe sy vorder met die drynering en die daaropvolgende afbind van haar water sodat sy natuurlik moet piepie, sal ons weet wanneer sy kan huistoe kom. Dit kan dalk eers Woensdag of Donderdag wees.

Japie het weer gebel. Odélia is stabiel. Sy het 8uur die aand uit die herstelkamer gekom. Sy was baie deurmekaar en het suurstof gehad. Toe sy wakker word, het sy in spasma gegaan en hulle het oorweeg om haar na die hoësorg eenheid te stuur. Dit was egter nie nodig nie, want sy het gestabiliseer.

Ons glo en vertrou dat alles sal goedgaan. Dra asseblief ons twee kleingoed in julle gebede op.

Sal julle op hoogte hou van hoe dit gaan. Heel moontlik sal ons môre foto's van Diela kan plaas.

Verjaarsdae




Ouma Trui van der Westhuizen verjaar vandag. Baie, baie geluk met Ouma se verjaarsdag. Ons bid God's rykste seën vir Ouma toe en ons glo dat Hy Ouma nog lank vir ons sal spaar. Ons is baie lief vir Ouma. Japie, Yolandi, Odélia, Annika en Joanné.






Ursula Jansen verjaar ook vandag. Baie geluk, vriendin. Mag die nuwe lewensjaar vir jou net gesondheid, voorspoed en liefde inhou.

Wednesday 19 March 2008

Playcentre tyd

Ek vat Ruben elke Vrydagoggend "playcentre" toe so 5 min van ons huis af.
Verlede Vrydag was dit playcentre awareness week en het hulle 'n springkasteel vir die kinders gehad en middagete vir hulle voorsien.
Hier's 'n paar fotos van hoe dit daar lyk en al die pret wat die kinders gehad het.




Vordering met Ruben se swemklas

Wil net vir julle wys hoe Ruben met sy swemklas vorder. Dis was Dinsdag sy derde klas en dit gaan baie goed. Ons gaan al kop onder water en die speletjies wat ons speel geniet hy baie.
Hier is 'n paar fotos



Verjaarsdae van vandag

Baie geluk met jou verjaarsdag, Morris. Ons hoop dit is 'n baie lekker dag. Mag die jaar vorentoe vol vreugde, geluk en seën wees.


Tuesday 18 March 2008

Sterkte Odélia en Annika

Odélia en Annika word die 20ste geopereer. Baie sterkte julle twee, ons hoop en vertrou die operaries gaan goed afloop. Sterkte vir Japie en Yolandi, ons almal sal aan julle dink en julle in ons gebede hou.





Ons glo Joanne gaan lekker by Oupa en Ouma kuier.


Dag se oefening

Elke dag na Johan gewerk het kom hy by die huis en dan vat hy vir Tinky om 'n bietjie te gaan hase soek.



Daar gaan die twee...


Nou begin die dinge. Johan ry op sy motorfiets en Tinky hardloop en soek hase.


Kyk net hoe moeg is Tinky na haar dag se oefening.