Thursday 20 March 2008

Nuus oor Odélia en Annika






Nuus uit Auckland oor Odélia en Annika is goed. Annika is vroeg vanoggend geopereer. Al die foto's wat ek ontvang het is van Annika voor en na die operasie en volg hierna. Albei arms was aanvanklik toegedraai, aangesien daar aarvoeding in die regterarm was. Dit is na die tyd verwyder. Annika is op en wakker en wil net graag haar linkerhand ook uit die verband hê. Dit moet ongelukkig nog 10 dae so in die verband bly en dan sal die verband verwyder word en die dokter na haar hand kyk. Dit gaan goed met haar. Ons het met haar oor die telefoon gesels en sy klink baie goed.

Odélia is later vanmiddag geopereer. Dit is soos ons almal kan dink 'n baie delikate operasie. Aangesien sy soveel infeksie in die urienweg gehad het, het die blaas tydens operasie begin swel. Dit het veroorsaak dat sy langer in die operasiesaal was, aangesien hulle toe stadiger moes werk. Die dokter was ook nie tevrede met die insetsel wat hy op die eerste nier gedoen het nie, en het dit weer oor gedoen, wat natuurlik toe ook veroorsaak het dat die operasie nog langer geneem het om te voltooi.

Die terugvoering wat na die operasie deur Japie gegee is, is dat dit goed gaan en die dokter tevrede is met die operasie. Sy het in beide pypies wat geskuif is in die nier 'n pypie vir drynering. Hierdie pypies kom uit in die maag - met 'n snytjie (weet nie presies waar op die magie nie). Deur hierdie snytjie kom die kateterpypie ook uit. Afhangende van hoe sy vorder met die drynering en die daaropvolgende afbind van haar water sodat sy natuurlik moet piepie, sal ons weet wanneer sy kan huistoe kom. Dit kan dalk eers Woensdag of Donderdag wees.

Japie het weer gebel. Odélia is stabiel. Sy het 8uur die aand uit die herstelkamer gekom. Sy was baie deurmekaar en het suurstof gehad. Toe sy wakker word, het sy in spasma gegaan en hulle het oorweeg om haar na die hoësorg eenheid te stuur. Dit was egter nie nodig nie, want sy het gestabiliseer.

Ons glo en vertrou dat alles sal goedgaan. Dra asseblief ons twee kleingoed in julle gebede op.

Sal julle op hoogte hou van hoe dit gaan. Heel moontlik sal ons môre foto's van Diela kan plaas.

No comments: