Tuesday 11 September 2007

Badkamer onder water

Ek, Ruben, wil gou vir julle 'n storie vertel. Ouma het vandag gedink sy is baie slim. Sy maak vir ons badwater oop en sit die "heaterlig" in die badkamer aan om die badkamer lekker warm te maak. Onthou dat ek die water toemaak en die deur toe los sodat die badkamer warm kan word, het Ouma gesê. Julle weet, Oumas onthou nie altyd so lekker nie. Ek het al gehoor dat Oupa ook daaroor kla. Ja, julle het reggeraai. Ouma het die water vergeet. En hierdie bad van Ouma het nie 'n gaatjie waar die water kan uitloop as dit te veel water is nie. Toe Ouma onthou van die water, was dit natuurlik te laat. Die hele bad was vol en die water het oor die rand geloop - net soos 'n waterval. Die badkamer se vloer was omtrent 'n duim onder water. Die water het tot in die gang gekom. Gelukkig was ek naby om te sien wat gebeur. Hulle het gedink hulle gaan my weghou van die water af. Aikôna. Ek het regtig lekker gespeel in daai water. Darem het ek vir Ouma jammer gekry. Julle moes sien hoe sy die water opgedroog het. Dit was emmersvol. Ek dink Oupa gaan haar piets, want sy het water gemors.

Kyk net hoe vol water is die vloer.




Kyk, julle, ek sit binne in die water. Definitief nie soveel water soos in die swembad nie, maar ek het nogtans vir 'n minuut of twee lekker gespeel. Zippies wou niks weet nie, nou moet ek bad. Ek moet tog nie weer siek word nie. My verkoue is nou soveel beter vandat oom dokter gister vir my daai ander pienk medisyne gegee het om te drink. Hierdie tande van my moet nou ook end kry, want ek is moeg vir 'n seer mond. (Ruben het 3 tande in 6 weke gekry. Glo my, dit was nie maklik nie.)







Dit lyk nie vir my asof Ouma soos ek gaan sit in die water nie. Sy gaan seker probeer om so te staan en al die water op te droog. Ek hoop haar rug gaan dit hou.





Laat ek tog gou vir Ouma help. Sy is al oud en tog so stadig. Anders kom sy nooit klaar vandag nie.






Net gou gekyk of Ouma haar "job" goed gedoen het. Want hier is mos nie 'n Julia om dit te doen nie. Ja wat, dit lyk darem of sy al die water opgedroog het. Maar ai tog, kyk net al die handdoeke. Môre moet sy weer heeldag wasgoed was. Gelukkig is ek dan nie hier nie.




1 comment:

Sandmensie said...

Ag jinne tannie, dis omtrent baie water! hier by ons is daar gate in die vloere-dreins met 'n doppie op, so as so iets hier gebeur trek jy net die "plug"!ekt altyd gedink dis stupid tot ek ook die water oop vergeet het!!!Ruben is te oulik vir woorde!! Baie baie bly Odelia se gesondheidvorder so goed, kan dink dit was vir julle 'n moeilike 8weke!dink julle het almal 'n blaaskans nodig...en dit is mos amper sulke tyd? November nê? en Daleen, gaan sy nou nog as sy werk?