Thursday 6 January 2011

Diela

Die dokters het vanoggend nadat hulle die notas van dr. Nicol van Auckland gelees het, hier in Rotorua besluit om Diela te opereer. Sy is toe ook so net met middagete gedoen. Die operasie het goed afgeloop.
Sy het Dinsdag op die arm geval en die arm was redelik geswel en as gevolg van die koors wat sy gehad het is hulle met haar terug hospitaal toe. Hulle het ook besluit om haar in Rotorua te hou. Dan kan Japie kom en gaan en die dokter wat hier geopereer het, het by dr. Nicol geleer.
Na die operasie het hulle die volgende kom sê:
Hulle het die elmboog oopgemaak en 'n hoeveelheid water daar gekry en geen vuilgoed nie. Gewik en geweeg, maar die dokter het besluit om tog maar 'n gaatjie in die radius te boor. Hier het hulle toe 'n sweersel raakgeboor met vuilgoed. Sy het nou 'n dreineringsbuis in en sal seker in moet bly vir die volgende 2 dae. Dan gaan hulle weer oopmaak om die plek te spoel. Hulle het ook aan die antibiotika verander.
So, Diela en Yolandi sal seker vir die volgende twee - vier dae definitief in die hospitaal moet bly.
Sy het nie baie lekker wakker geword nie, maar nadat sy pynmedikasie gekry het, weer 'n bietjie geslaap. Toe sy daar wakker word, het sy regtig beter gelyk en was ook lus om te eet.
Baie dankie vir julle gebede gedurende hierdie tyd van Diela se siekte. Bid asseblief nogsteeds vir haar dat sy gou sal gesond word.
Intussen kuier Annika en Joanné by Oupa en Ouma. Hulle verlang ook maar baie na Odélia. Annika het netnou kom vra wanneer kom Diela nou huistoe.

No comments: