Saturday 23 August 2008

Kalfies melkgee

Elke oggend van 7 uur af is dit kalfies melkgee tyd. Dit hou aan tot party keer half een / eenuur. Dit hang af hoeveel kalfies daar is wat gedrench moet word. (Dit is met 'n pyp voor aan 'n bottel melk - in die kalf se keel tot in die maag, en dan loop die melk self uit die bottel.) Elkeen kry 2 liters melk sodra hulle uit die paddock(weikamp) in die kalfhokke afgelaai word. Dit is eintlik die manne of vrou wat hulle aflaai se werk. Ek is sommer die eerste oggend deur Japie gewys hoe om te drench - iets wat ons in Suid Afrika nooit gedoen het nie. Pieter het vanoggend en Sebil verlede Saterdag vir my fotos geneem.

Verlede naweek was my af naweek. Daleen het vir Kathleen help melkgee. Ruben het by my en Oupa gekuier, want toe was Oupa nog afsiek met sy been.
Op die foto is Daleen besig om een van die Kafs (kort vir kafeteria - die houer waaraan tiete is - dan drink 10 kalfies gelyk daaraan) aan die heining te hang sodat daar melk ingepomp kan word.



Kathleen, die vroutjie wat altyd saam met my melkgee.

Terwyl Sebil die fotos geneem het en die ander besig was met melkgee, het Ruben die "fietsie" ontdek. Hy moes natuurlik eers daarop ry.


Totsiens, Mamma!!!!

Tata, Ruben.


Vanoggend was dit Kathleen se af dag. Japie het gehelp om melk te gee. Later het Pieter bygekom en bietjie later Yolandi en die dogters. Dit was 'n baie lekker dag. Warm, maar nie regtig sonskyn nie.
Ons het van plaas 9 se kalfies na plaas 14 gegaan om ook daar melk te gee.
Ek, Japie, Yolandi en die dogters was al besig, toe Pieter daar aangekom het. Met Ruben op die motorfiets.
Op die foto is Japie, Annika, Ruben en Joanné in een van die kalfkampies.



Annika wil oor die heining klim. Japie staan nader om seker te maak sy kom reg.



Mooi so, Anka, jy het dit reggekry!!



Japie, Japie, help! Dit was Ruben. Hy het Annika dopgehou en toe self probeer om op te klim. Toe ons sien sit hy pens en pootjies bo op die heining, maar kon nie sover kom om aan die anderkant af te klim nie. Hier is hy en Annika weer besig om op te klim.



Nané is nog baie ligtig vir die kalfies - hulle is dan soveel groter as wat sy is.

Baie versigtig het sy agter om hulle beweeg terwyl hulle drink om na Oupa toe te gaan.




Diela is altyd die een wat wil help. Elke kampie word nadat ons melkgegee het, gespuit met 'n ontsmettingsmiddel. Hier wys sy vir ons dat sy ook kan spuit.





Ons het ook groter kafs, waaraan daar 20 kalfies gelyk kan drink.

Hier is Yolandi besig om een van hulle met melk vol te maak.


Oupa wou eers gou 'n foto neem van Ouma en die drie groot kleinkinders. Hier is Diela, Anka en Ruben saam met my.


Natuurlik het Ruben nie vergeet van die fietsie nie. Hy het vir Lana (Yolandi) geroep om hom op die fietsie te kom tel. Lana was nog besig met die melk, en Oupa het gehelp. Die kleingoed moes toe almal op die fietsie ry.

Ruben en Annika.

Odélia, Annika en Ruben.

Odélia, Annika, Ruben en Joanné.


Die klere wat hulle aan het, noem ons "wet weather gear". Dit is van 'n soort plasties gemaak. Hulle kan baljaar in die water en sand en die klere onder bly droog en skoon. Ons ander dra dit ook, om kalfies melk te gee, mee te melk en in die reën te werk. Dit spaar jou klere baie.


Nadat hulle fietsie gery het, het die sand weer 'n lekker speelplek gemaak. Nogal gesukkel om vir Odélia en Ruben daar weg te kry.




Japie moet 300 vervangings versies uit die 1 300 koeie groot maak. Ons het vanoggend darem al op 262 gestaan en Japie moes nog 'n paar getag het. Nog so 38 om te gaan. Ek kan ook net vir julle noem dat ons nog net 2 kalfies uit die 262 verloor het. Dit wou voorkom of hulle in die kampie waar die eerste 40 bymekaar was, dood getrap is.
Ek sal nog fotos van die ander hulpmiddels by die kalfies neem. Ook sal ek fotos neem van ons eerste groep - 40 kalfies - wat al in die paddock is.
Dankie vir die fotos, Oupa en Sebil.

No comments: