Saturday 10 October 2009

Dogtertjies kuier






Die eerste week van die skoolvakansie het die Odélia, Annika en Joanné vir 'n paar dae hier by my en Pieter gekuier. Ons het hulle die Sondagmiddag gaan haal. Annika en Joanné is die Dinsdag weer huistoe, want Joanné het weer oorontsteking gekry. Odélia het nog tot die Donderdag gekuier. 'n Paar foto's van hulle.
Hier is hulle aldrie besig om stickers te plak en vir Mamma en wie weet nog almal kaartjies te maak.



Middagslapie tyd. Dit is altyd moeilik. Hulle wil almal op Oupa se bed slaap. Hier slaap Joanné en Annika op die bed. Gelukkig was hulle so uitgeput na die oggend se shopping, dat hulle feitlik onmiddelik aan die slaap geraak het. Deur die dag slaap hulle nie op dieselfde bed of in dieselfde kamer nie, want dan is dit altyd 'n gespeel voordat hulle aan die slaap raak.

En Ousus? Ja, julle het reggeraai. Sy slaap so af en toe in die middag. Sy wag tot alles mooi stil is, klim uit die bed en dan kry jy te swaar om haar terug te stuur. Sy doen dan haar eie ding terwyl die ander twee slaap.




Verlede Sondag het Japie, Yolandi en die dogters almal hierheen gekom. Een van ons werkers het geval met sy motorfiets en sy sleutelbeen seergemaak. Hy is afgeboek tot die 4de November. Japie het afgehad en besluit dat hulle moes kom help.
Dit was eintlik Pieter se aftyd, maar dit kon toe nie regtig gebeur nie, want hande was te min. Hy het elke oggend en middag gemelk en in die dag gehelp met al die ander werk. Yolandi het Maandagmiddag gemelk. Ouma het natuurlik net die room gekry. Sy het gekuier en is lekker bederf. Met Yolandi in die huis het ek gladnie bekommerd gewees oor wat ons gaan eet nie. Dit is lekker as iemand anders kosmaak. Mens raak so deurgeëet aan jou eie kos.
Die kuier was ook lekker lank. Vanaf Sondagmiddag tot Donderdagmiddag.
Ons is baie geseënd om ons kinders so naby ons te kan hê. Ons kan ons Hemelse Vader nie genoeg daarvoor dankie sê nie.
Baie dankie, Japie en Yolandi, dit was so 'n lekker kuier. Ons sien mekaar nou nie meer so gereeld soos verlede seisoen nie. Kom kuier gerus weer vir ons.

No comments: