Friday 25 April 2008

Anzac day - 25 April

Nieu-Seeland en Australië hou op Vrydag 25 April ANZAC Day.
ANZAC is die naam wat gegee is aan die soldate van die AUSTRALIAN and NEW ZEALAND ARMY CORPS wat gedurende die oggend van 25 April 1915 tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) op die Gallipoli-skiereiland in Turkye aan wal gegaan het.

Die plan was om Istanbul, die hoofstad van die Ottoman-Ryk en bondgenoot van Duitsland, te verower en Turkye as deelnemer aan die oorlog uit te skakel. Die ANZAC-mag het aan wal gegaan, maar is deur hewige weerstand van die Turkse verdedigingsmag begroet. Wat as ‘n ambisieuse plan begin het, het vinnig in ‘n skaakmat-situasie ontaard. Die loopgraafstryd het gevolglik vir agt maande voortgesleep.

Teen die einde van 1915 is die geallieerde magte aan Gallipoli onttrek, nadat beide kante swaar lewensverliese gely en groot ontberings beleef het. Meer as 8,000 Australiese en 2,700 Nieu-Seelandse soldate het gesterf.

Nuus van die ANZACS se mislukte aanslag het ‘n groot impak op Australiërs en Nieu-Seelanders tuis gemaak en so het 25 April spoedig die dag geword waarop hulle die gesneuweldes sou onthou. Dit word nou gesien as ‘n nasionale dag van seremonies, onthou, dankbaarheid en nasionale trots.

Al wat mens is dra in die week voor Anzac Day ‘n rooi ‘poppie (blommetjie) wat hulle oral by vrywilligers of op toonbanke met donasies koop. Die opbrengs gaan aan ‘n fonds vir oud-stryders.

No comments: